Die Salomoniese Dinastie (Amharies: ሰሎሞናዊው ሥርወ መንግሥት, Sälomonawīwi širiwä menigišiti), ook bekend as die Huis van Salomo, was ’n dinastie van die Keiserryk van Ethiopië wat in die 13de eeu ontstaan het. Sy lede het beweer hulle is direkte afstammelinge van die Bybelse koning Salomo en die koningin van Skeba. Volgens tradisie het die koningin die lewe geskenk aan Menelik I ná die besoek aan Salomo in Jerusalem wat in die Bybel beskryf word.[1]
In 1270 is die Zagwe-dinastie van Ethiopië omvergewerp deur Yekuno Amlak, wat beweer het hy stam van Salomo af. Dit was die begin van die Salomoniese tydperk in Ethiopië. Die dinastie het regeer tot in 1974, toe dit in ’n staatsgreep omvergewerp en Haile Selassie afgesit is.[2] Selassie was ’n Salomoniese prins deur sy ouma.